Tuisblad

My naam is Irene Fischer en ek het ‘n traumatiese breinbesering opgedoen in 2009. As gevolg van die impak waarmee ‘n vragmotor teen my kar vasgejaag het, het my brein so rof rondgeskommel in my kop dat my skedel gekraak het. My brein is gevolglik beskadig.

Ek het skade aan my brein.

Breinskade.

Daai woord proe bitter in my mond. Dit het nog altyd vir my vreesaanjaende drogbeelde opgetower van mense wat so krom en skeef soos zombies was. Ek was altyd onder die indruk dat breinskade altyd ‘n stewige hap uit jou IK neem en jou logika steel, jou persoonlikheid verander en jou gedrag irrasioneel, aggresief en onvoorspelbaar maak. Daarom, sodra ek gehoor het iemand het breinskade opgedoen, was ek skrikkerig vir daai persoon, want ek het gedink hulle is gevaarlik …

Vandag laat sak ek my kop in skaamte om te erken dat ek sulke vieslike voorgestelde idees gekoester het. Ek besef dat voor my brein beskadig is, ek totaal en al onbewus was oor wat dit alles kan behels as die brein breek. ‘n Ongelooflike nare, donker stigma kleef aan daai woord as gevolg onkunde. Die meeste mense stel gewoonlik net belang in enige gestremdheid as ‘n geliefde direk geaffekteer word daardeur. Ek wil dit graag probeer verander. Ek glo jy kan my help.

‘n Miljoen dingetjies kan skeef loop nadat ‘n persoon ‘n ernstige breinbesering opgedoen het en deur hierdie webtuiste beoog ek om jou meer oor breinbeserings te vertel om sodoende die gewigtige tema ’n bietjie te ontlont. Deur jou in te lig oor alles wat ek te wete gekom het nadat my brein beseer en beskadig is, hoop ek om jou insig te verryk. Hopelik sal dit jou aanspoor om meer simpatiek en geduldig teenoor ‘n breinbeseerde op te tree.

One person can make a difference, and everyone should try. JOHN F. KENNEDY